Hierdie nuwe boek van Gerjo Ben dra heel gepas die titel Asem. Jy moet tyd maak om asem te haal wanneer die lewe jou vasdruk, omklap, of jou asem wegslaan, want sonder asem is jy in groot moeilikheid.
Dit laat my dink aan Job wat vir die Here gesê het: “Wil U nie ʼn oomblik van my af wegkyk en my ʼn oomblikkie laat asem skep nie.” (Job 7:19) Daar staan letterlik: “... dat ek net my spoeg kan afsluk.”
Hierdie praktiese boek wil jou help om in God se teenwoordigheid jou spoeg af te sluk, jou asem terug te kry, en ʼn vars perspektief uit God se hand op die lewe te kry.
Ek kan hierdie boek aanbeveel, want ek ken die skrywer al baie jare. Sy boek is soos hy – eerlik, eg en vol genade. Dit is soos hemelse salf op die lewe se seer. Wie van ons het nie daardie salf nodig nie?
Toe Robert Louis Stevenson naby aan die einde van sy lewe was, het sy vrou by sy bed kom staan en gesê: “I suppose in spite of all your troubles you will tell me again that it is a beautiful day.” Die beroemde skrywer het geantwoord: “Yes, my dear. I refuse to let that row of medicine bottles be the circumference of my horizon.”
Met Asem wil Gerjo Ben jou juis hiermee help.
Augustinus het geglo dat hoop die grootste van die drie deugde is.
Geloof sê vir ons: God bestaan.
Liefde sê vir ons: God is goed.
Maar hoop sê vir ons: God doen wat Hy belowe het.
Dit is hoop wat niemand van jou kan wegneem nie. Hoekom? Want hoop is geanker in die Ewige. Maar meer nog: Hoop is ʼn Persoon. Paulus noem Christus Jesus ons Hoop (1 Timoteus 1:1).
Dít is waaraan Asem jou wil laat vashou. Deur hierdie boek laat Gerjo Ben ons iets beleef van hemelse mond-tot-mond asemhaling, want God blaas Sy lewe in ons. Sy asem maak ons sterk. Dankie, Gerjo Ben, vir hierdie tydige boek.
Ewald van Rensburg
Somerset-Wes